Nieu-Ierland Inheemse naam: New Ireland | |
---|---|
Nasa-Satellietbeeld van ontbossing in Nieu-Ierland tussen 1989 (onder) en 2000 (bo) | |
Geografie
| |
Ligging | Melanesië, Stille Oseaan |
Koördinate | 4°5′S 152°46′O / 4.083°S 152.767°O |
Argipel | Bismarckargipel
|
Oppervlakte | 7 404 vk km |
Hoogste punt | Berg Taron 2 379 m |
Administrasie | |
Papoea-Nieu-Guinee | |
Provinsie | Nieu-Ierland
|
Demografie | |
Bevolking | 118 350
|
Nieu-Ierland (Engels: New Ireland, vroeër Duits: Neumecklenburg[1]) is ná Nieu-Brittanje die tweede grootste eiland binne die Bismarckargipel en behoort tot die eilandnasie Papoea-Nieu-Guinee. Die eiland is net noordoos van Nieu-Brittanje en noordwes van Bougainville geleë en maak deel uit van Melanesië. Dit vorm sedert 1977 die provinsie Nieu-Ierland. Nieu-Ierland het 'n bevolking van 118 350 in 2002 gehad en het 'n oppervlakte van 7 404 km². Die eiland skei die Bismarcksee in die suidweste en die Salomonssee in die suide van die oop Stille Oseaan in die noordooste.
Die eiland is in die 16de eeu deur die Spaanse ontdekkingsreisiger Pedro Fernández de Quirós vir Europa ontdek, in 1616 het die Nederlandse Jakob Le Maire en Willem Schouten voet aan wal gesit. Vanaf 1885 tot 1919 was die eiland deel van die Duitse kolonie Duits-Nieu-Guinee (Deutsch-Neuguinea) en is ná die Duitse hertogdom Mecklenburg genoem. Die kolonie is tydens een van die eerste veldslae tydens die Eerste Wêreldoorlog in 1914 deur Australiese magte aangeval en verower. Tussen 1920 en 1949 is die gebied deur Australië as 'n Volkebond-mandaat bestuur en ná die Britse Eiland Ierland hernoem. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Nieu-Ierland in Januarie 1942 deur Japannese magte aangeval en tot 1945 beset. In 1949 is die gebied deur die Verenigde Nasies tot 'n Trustgebied verklaar en nog tot 1975 deur Australië bestuur. Op 16 September 1975 het die eiland deel van die onafhanklike Papoea-Nieu-Guinee geword.[2]